Dormer Toekenning - Mamre Dormers

Manie en Karin Wessels boer op die plaas Mamre in die Vrede distrik. In 2005 verruil hulle die soeke na klatergoud en flou stadsliggies vir ʼn lewe van passie, om elke dag met skape en beeste te werk.


Karin bedryf ʼn Dormer stoet met die toepassing van ʼn Intensiewe Lamstelsel met ʼn deurlopende aanwas. Stoet ooie is opgedeel in agt groepe wat elke maand lam, met elke ooi wat op ʼn versnelde lamsiklus van 8 maande is.

Die bestuur van die stoet word uitgevoer op die basis van ʼn Projekplan. Die plan is rekenaar (excel) gebaseer om die kompleksiteit te vereenvoudig en die vordering noukeurig te moniteer en bestuur.


Hier boer Karin nie net met skape nie, maar volg sy haar lewensdroom. Elke dag is ʼn vervulling van haar hartsbegeerte. Sy is suksesvol met haar pogings, omdat niks vir haar te veel is nie, geen taak te groot is nie en geen uitdaging onbereikbaar nie.

Hier op die oop Hoëveldse vlaktes waar ʼn mens nog vry kan asemhaal, maak sy nie net ʼn bestaan uit haar skaapboerdery nie, maar lewe sy in oorvloed. Haar werk gee nie net aan haar, haar daaglikse brood nie, maar bied die geleentheid om deel te hê aan ʼn hoër doel om ʼn Goddelike roeping te vervul en om so naby aan God se skepping te arbei.

By die Aldam Beesskool se Gala aand het Dr. Karin Wessels die spesiale toekenning ontvang vir die mees innoverendste veeboer van die jaar 2014 .